Duitse sokkerkampioen

Duitse sokkerkampioen
Deutsche Fußballmeisterschaft 2024
Sportsoort Sokker
Gestig 1903
Vervang met Bundesliga
Eienaar Duitse sokkerbond
Inwydingseisoen 1935
Deelnemende lande Vlag van Duitsland Duitsland
Aantal spanne 18
Mees onlangse kampioen Bayer 04 Leverkusen (2023–24)
Verwante kompetisies Bundesliga

Sokker is in 1903 in Duitsland verenig met die stigting van die Duitse sokkerbond. Voorheen was daar verskillende onafhanklike kompetisies. Tussen 1903 en 1944 het die wenners van die verskillende streeksligas aan die einde van die seisoen in 'n reeks uitspeelwedstryde meegeding om die Duitse kampioen te bepaal. Ná die Tweede Wêreldoorlog het die Sowjetse besettingsowerhede geweier dat die kampioen van die deel onder hulle administrasie aan die uitspeeltoernooi mag deelneem en kon die spanne in Oos-Duitsland dus nie langer aan die Duitse kampioenskappe deelneem nie. In Wes-Duitsland het die wenners van die Oberligas (wat die Gauligas van die Derde Ryk vervang het) voortgegaan met die uitspeelwedstrydstelsel tot in 1963, waarna die wenner van die Bundesliga as die Duitse kampioen gekroon is. In Oos-Duitsland is die wenner van die DDR-Oberliga as die kampioen gekroon.

Tussen 1903 en 1944 het die klubs meegeding om die "Victoriatrofee", geskenk deur kroonprins Wilhelm van Pruise. Die laaste span wat die Viktoriatrofee verower het, was Dresdner SC, wat die lugmagklub Luftwaffen SV Hamburg in die Olimpiese Stadion in Berlyn met 4–0 verslaan het aan die einde van die 1943/44-kompetisie. In die chaos wat in Duitsland geheers het aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog, het die trofee verdwyn ('n sokkerondersteuner het dit aanvanklik in sy kelder onder 'n hoop steenkool vir die Geallieerdes weggesteek. Dit is daarna vir jare lank in 'n privaatkluis in 'n Oos-Duitse bank bewaar). Dit het eers na die Duitse eenwording in 1990 weer na vore gekom en is aan die DFB oorhandig.

In die Duitse Bondsrepubliek is daar intussen 'n nuwe trofee, die Meisterschale ("Kampioenskapstrofee"), geskep in 1949. Hierdie trofee word vandag steeds gebruik om die Duitse kampioen te kroon.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy